Waterturbine

'n Waterturbine is die meganisme wat die werking van 'n waterwiel aan die beweeg hou. Danksy die waterturbine, kan bewegingsenergie moontlik gemaak word sonder dat mens of dier se spierkrag ingespan word. Vandag sien 'n mens weliswaar byna geen watermeul meer nie, maar die beginsel van die waterwiel word nog steeds gebruik, en daarom is dit die moeite werd om dit van naderby te beskou. Ons kan twee basiese vorme van die waterwiel onderskei.

Die een vorm is 'n waterwiel met reguit skepvleuels wat op so 'n manier in die water geplaas word dat die wiel deur die vloeiende water aangedryf word. Op plekke waar omstandighede dit toelaat, word waterwiele gebruik waarop water van ʼn hoogte af uit 'n geut val en geboë of bakvormige vleuels tref. Hierdie soort waterwiel het die groot voordeel dat nie alleen die bewegingsenergie van die water nie, maar ook die valenergie gebruik word.

Hoe hoër die waterstraal val, hoe groter is die potensiële energie en hoe sterker is dus die krag wat op die wiel inwerk. Hierdie soort waterwiel was veel volopper as eersgenoemde soort. Die werkvermoë van so 'n waterrat is nie baie hoog nie, want die waterenergie word net ten dele benut. Daarom is mettertyd installasies ontwikkel om die waterkrag beter te benut. Hierdie kragmasjiene heet waterturbines.

Net soos die waterwiel sit die waterturbine die potensiële energie van die water om in meganiese energie of, met die stroomopwekkers (generators) van hidroëlektriese kragstasies, in elektriese energie. Hoe die water na die turbine gelei word, word in 'n ander artikel verduidelik. Hier kan ons net noem dat die water by die onderpunt van 'n hoogdruk-waterpypleiding met 'n val van 1 000 meter 'n drukking van sowat honderd atmosfere uitoefen, (Een atmosfeer is 103,3 kPa.) Die water oefen dus druk uit van meer as 100 000 newton per m2. Die waterstraal het 'n potensiële snelheid van 140 m/s (dit wil sê meer as 500 km/h). Gevolglik het die straal ʼn oneindig hoër energie as 'n gewone stroom water wat 'n waterwiel aandryf.


Developed by StudentB